IMPERIAL TOYOTA CAPEGATE ONDERSTEUN GINIEL DE VILLIERS

Monday, 31st October 2011

Giniel de Villiers, Springbok motorrenjaer en Dakar-veldren-wenner, het gister ontvangs geneem van sy splinternuwe Toyota Hilux 4.0 V6 4x4 Double Cab Raider.

De Villiers is onlangs aangewys as die nommer 1 jaer vir die nuwe IMPERIAL Toyota SA Span wat aan die topklas van die Dakar-veldren gaan deelneem. As voormalige wenner is hy die aangewese kandidaat om die ren namens IMPERIAL Toyota en mede-borge aan te pak.

“Ons is baie opgewonde oor die geleentheid om ’n bakkie aan Giniel te oorhandig en sodoende seker te maak dat hy ’n Hilux op eie bodem en in die Dakar-veldren ry,” sê Andrew Miller, Uitvoerdende Hoof van IMPERIAL Toyota.

Die Hilux, ter waarde van R445 900, is aan De Villiers oorhandig deur IMPERIAL Toyota CapeGate se handelaarshoof Charl Odendal.  Die voertuig is in wese soortgelyk aan die Dakar Hilux wat van 1 tot 15 Januarie in Argetinië, Chili en Peru aan die Dakar-ren deelneem, hoewel die ren-weergawe met ’n V8-enjin toegerus word om sodoende aan die topklas T1-kategorie deel te neem.

“Dit is die eerste keer dat ’n vol-Suid-Afrikaanse span aan die Dakar-ren deelneem. Dit maak ’n mens trots om te weet dat my nuwe V6 Hilux en die ren-V8-Hilux op eie bodem gebou word. Ek is in besonder dankbaar vir Charl en sy span, wat my administrasie en die aflewering van die Hilux in ’n oogwink afgehandel het,” sê de Villiers.

Miller van IMPERIAL Toyota voeg sy stem by dié van de Villiers: “As maatskappy is ons reeds vir etlike jare betrokke by die Suid-Afrikaanse Castrol Toyota Motorsport-span. Toe die geleentheid homself voordoen om aan die Dakar-ren deel te neem het ons behoorlik gespring vir die geleentheid,” sê Miller.

Die aankondiging van IMPERIAL Toyota se deelname aan die Dakar-ren volg op hierdie maatskappy se herdenking van sy 40ste bestaansjaar in Suid-Afrika en Toyota Suid-Afrika se 50ste bestaansjaar in die land.

Saam met De Villiers en Odendal was sy welbekende navigator Dirk von Zitzewitz. De Villiers en Zitzewitz sal saam in een Hilux jag terwyl veelmalige nasionale veldrenkampioen Duncan Vos en sy mede-jaer Rob Howie in die tweede Hilux sal deelneem.

“Ons as handelaar is baie opgewonde oor die Hilux se deelname aan die Dakar-tydren. Ons is bly ons kan namens IMPERIAL Toyota ’n bydrae lewer en ons sien uit om Giniel oor die wenstreep in Suid-Amerika te verwelkom,” sê Odendal.

IMPERIAL Toyota is hoofborg en dryfveer van die Suid-Afrikaanse Dakar-renpoging en sal bygestaan word deur Toyota Suid-Afrika Motors in onder meer die voorbereiding van die voertuie. Ander kernborge sluit in Duxbury Netgear: Duxbury Netgear is ’n spesialis-IT-netwerkverspreider en alleenverspreider van Netgear.  Die uitvoerende hoof is Graham Duxbury, ’n voormalige vooraanstaande renjaer en wenner van die Daytona-uithouren oor 24 uur. Die INNOVATION-groep is ’n spesialis-wêreldverskaffer van programmatuur en uitkontrakteringsoplossings aan versekeraars en die verwante vloot-, voertuig- en eiendomsegmente.

IMPERIAL TOYOTA NEWS

© Imperial Toyota - 2020 | Links | IMPERIAL TOYOTA CAPEGATE ONDERSTEUN GINIEL DE VILLIERS

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting